Amerikaanse voetbal

Twee spanne speel Amerikaanse voetbal

Amerikaanse voetbal het in 1876 ontstaan, toe verteenwoordigers van 'n paar Amerikaanse universiteite begin het om 'n gewysigde soort rugby te speel. Deur die jare heen is daar gedurig veranderinge aangebring, sodat die ooreenkoms tussen hierdie spel en rugby vandag maar gering is. Die hoofdoel is nog altyd om die bal tot agter die teenstanders se doellyn te dra, maar die metodes om dit te bereik en die reëls verskil hemelsbreed van dié van rugby.

Oorspronklik is dié spel ook deur twee spanne van 15 spelers elk gespeel, maar 'n span bestaan nou uit 11 spelers; en die skrum, wat een van die kenmerke van rugby is, het verdwyn. Die span in wie se besit die bal is, kry vier kanse om te beweeg, en as hy met die vier kanse altesame tien treë veld wen, kry hy nog vier kanse; so nie, is dit die ander kant se beurt om te probeer. Sodat die afstand wat 'n span vorder onmiddellik vasgestel kan word, is daar elke vyf treë 'n streep dwars oor die veld getrek. Wanneer 'n speler met die bal hardloop, word van sy maats toegelaat om die verdedigers wat hom wil keer, uit die pad te stamp. As beskerming teen die stampe dra die spelers klere wat dik opgestop is en 'n helm wat lyk soos dié wat motorfietsjaers opsit om hul kop te beskut. Van ál die studentesport in die Verenigde State wek Amerikaanse voetbal die meeste openbare belangstelling. Wedstryde tussen die bekendste universiteite het al meermale honderdduisend toeskouers gelok.

Die spel het nog nêrens buite die VSA posgevat nie.


Developed by StudentB